Uit die skoolhoof se pen...
Dit is opnuut ‘n heerlike
voorreg om te getuig dat Laerskool Aliwal-Noord ‘n waardegedrewe skool is wat
voortdurend daarna streef om goeie geleenthede te skep vir leerders om begelei te
word op hulle ontdekkingsreis van die lewe.
2026 is ons jaar van
vernuwing! Ons kyk na die verlede en weet daarsonder sou ons nie wees waar ons
is nie. Ons dankbaarheid vir die mense wat diep spore getrap het in Laerskool
Aliwal-Noord, ken geen perke nie. Die fondasies is stewig gelê en elke
generasie se bydrae het ‘n groot verskil gemaak in die opvoedingsarena waarin
ons, ons tans bevind.
As ons na die toekoms kyk,
weet ons dat ons ‘n veranderende wêreld tegemoetgaan. Tegnologie is hier om te
bly, maar ongelukkig ontdek ons ook die negatiewe sy hiervan. Daarom fokus ons
op die positiewe aspekte en het van die begin van hierdie jaar met Kodering
begin. Die rekenaarklas is steeds in volle swang en met jong onderwysers wat
vuur-en-vlam oor tegnologie is, is die klasse volgepak met interessanthede.
Die waardes van respek kan
nooit onderskat word nie. As ons mekaar respekteer en na waarde ag, al is ons
hoe verskillend, is dit vrugbare grond vir groei en ontwikkeling. Ons vertrou
dat hierdie jaar die jaar sal wees wat ons gaan onthou as die
waterskeidingsjaar waarin ons die toekoms met hernude ywer en opgewondenheid
tegemoet gaan. Op die boustene van gister, kyk ons na môre en leef elke dag
voluit!
Die BUFFEL word by
die HORINGS gepak!
Alie-groete
Ronél
Bester