Eistedd@Alies word jaarliks teen die einde van Augustus by Laerskool Aliwal-Noord aangebied. Dit is die absolute hoogtepunt op ons skool se kultuur-kalender. Ongeveer 30 tot 35 skole van heinde en ver neem jaarliks aan die eisteddfod deel en tussen 3 000 en 4 000 inskrywings word ontvang!
Deelnemers kan vir Musiek, Sang, Drama en Danse inskryf en dan gedurende die eisteddfod-week hul onderskeie items voor kundige beoordelaars kom lewer. Hierdie week is nie net ‘n fees van individuele talente en verhoog-optredes nie, maar ook’n reuse-uitstalgeleentheid vir al die ander kunste-afdelings waarvoor leerlinge kan inskryf. 2- en 3-Dimensionele Kunswerke, Grafiese Ontwerp, Digitale Kuns en die ontwerp van Verhoogkostuums, is van die kuns-afdelings waarin deelgeneem kan word.
Dan kan leerlinge wat ‘n passie vir die geskrewe woord het, ook hul talente ten toon stel deur aan ons Skryfkuns-afdeling deel te neem.
Eistedd@Alies is voorwaar ’n alles-en-nog-wat kunste-ervaring soos min!