Roosters vir elke klas word streng volgens Departementele riglyne saamgestel en die vasgestelde onderrigtyd per vak, word so ver as moontlik gehandhaaf. Die oorgrote meerderheid onderwysers het elkeen ‘n eie klaskamer, waar hy/sy onderrig in sy/haar spesifieke vak(ke) gee.
Hier kan die onderwysers na hartelus hul passie vir hul vak uitleef en die klas dan ook volgens ‘n spesifieke vak inrig en sodoende die perfekte vak-atmosfeer skep. Leerlinge wissel van klas tot klas.
Die graad 1- tot Graad 6-leerlinge kry ook een maal per week die geleentheid om ‘n klas in ons goed-toegeruste rekenaarlokaal by te woon. Hier leer hulle nie net basiese rekenaarvaardighede aan nie, maar kry ook die geleentheid om hul wiskunde- en taalvaardighede op te skerp met die hulp van rekenaarprogramme wat deur die skool aangekoop is.
Hierdie klasse dien as vaslegging en uitbouing van dit wat deur die vakonderwysers in onderrigtyd aangeleer is.